Twee swem 459 km na Madagaskar

Twee swem 459 km na Madagaskar

Read more on Rapport.co.za here

Twee swem 459 km na Madagaskar

Van Mosambiek na Madagaskar.

Klink dit soos ’n nuwe animasie-fliek? O nee, twee Kapenaars het dié afstand van 459 km in net 24 dae geswém.

Jonno Proudfoot en Thane Williams (albei 29) het nie duikpakke of asemhalingstoerusting gehad toe hulle gemiddeld 19 km ver per dag in die see geswem het nie.

“Die twee grootste probleme was die stryd teen verveeldheid en die konstante vrees,” sê Proudfoot en wys daarop dat daar nie haainette in die oop see is nie.

“Dit voel of die tyd stilstaan; jy swem twee uur lank, maar jou kop sê dit kan al vyf uur wees.

“En dan is daar die gevare wat in die water skuil. Jy kan niks sien nie, maar ’n mens het nooit geweet watter gediertes sien jou nie. Die water was tot 3 km diep in die middel van die Mosambiekse kanaal.”

Hulle is verskeie kere deur jellievisse gesteek en daar was ook dikwels haaie.

Dit is die eerste keer dat iemand die kanaal as swemmer oorgesteek het. Die swemtog kan nog as die langste swem in oop water sonder hulp aangeteken word, sou al die statistieke klaar ingesamel wees.

Hulle het geld ingesamel vir die Cipla Miles for Smiles-projek. Hulle wou genoeg geld insamel vir die operasies van 50 kinders met ’n gesplete verhemelte.

“As ek nou terugkyk, voel dit soos iemand anders se herinneringe. Dit is so bisar,” sê Proudfoot.

Die twee swemmers het mekaar ontmoet toe hulle saam na Robbeneiland geswem het. Daarna het hulle nog twee Ystermankompetisies saam gedoen.

“Dis juis toe ons van die Ysterman af terugry dat ons besluit het om iets te doen wat niemand nog tevore gedoen het nie.”

Dit het twee jaar se beplanning geverg. “Ons het begin deur ses uur per dag te swem, maar toe besef ons ons sal langer moet swem om betyds klaar te maak.

“Ons het volgens tyd gegaan en nie volgens afstande nie, aangesien die seestrome so ’n groot rol gespeel het.” Proudfoot sê party dae het hulle skaars 7 km ver geswem, maar met ’n seestroom van agter het hulle ander dae weer tot 37 km gehaal.

Die son het elke dag genadeloos op hul rûe gebrand, en elke oggend is hulle met lae sonbrandolie ingesmeer.

Hulle het op 28 Februarie begin en op 23 Maart klaargemaak.

 

***

In the interest of our patients, in accordance with South African law and our commitment to expertise, MediHub cannot subscribe to the practice of online diagnosis. Please consult a medical professional for specific medical advice. If you have any major concerns, please see your doctor for an assessment. If you have any cause for concern, your GP will be able to direct you to the appropriate specialists.